In en om die huis, Desember 2020

 

Desember 2020

Sowaar!

Ná 63 jaar

is ons nog daar

vir mekaar

 Heel onder hierdie uitgawe kan die oorspronklike Skakels van Desember 2020 afgelaai word! 


Dankie, Jonker, dat jy my gevra het om hierdie oulaas-Voorwoord te skryf.

Skakels het in 2003 ontstaan deur die inisiatief van Jonker, wat gevoel het dat ’n kwartaalblad met ’n tema die kinders van Pappie en Mammie hegter aan mekaar sou bind. Hy het as redakteur opgetree en Jansie as kunsredaktrise wat die blad met tekeninge verfraai het. Nou, met die Desember 2020-uitgawe, ná sewentien jaar, het die ouderdom ons ingehaal en het ons besluit om ná 68 uitgawes halt te roep.

Skakels, as kleinboet van die WWM, is gereeld geskryf rondom temas wat Jonker as redakteur uitgedink het wanneer hy daar in Klerksdorp nie kon slaap nie. Vele van die temas het die Skakelaars in staat gestel om terug te dink aan Lindley en Winddam se goeie ou dae en die waardevolle opvoeding wat ons daar, ten spyte van swaarkry in oorlogsjare, gekry het. En die WWM is self al 63 jaar oud!

Sedert die stigting van Skakels in 2003 is Japie, Hannatjie, Willers en Jansie oorlede. Ons eer hulle nagedagtenis.

Selfs nie al die bydraers tot Skakels weet hoe ons kwartaalbladjie deur die jare tot stand gekom het nie. Die bydraes is eers na my gestuur, dan het ek dit getik en uitgedruk en vir Jansie op die plot geneem om met kleurpotlode te versier. Dan is dit aanmekaar gekram, en gesirkuleer. Later het Helena Coward en Gideon ’n duur binder gekoop wat gaatjies kon pons en waarmee binders die blad netjies aanmekaar kon hou.

Nog later het die Skakels-fabriek na ons meenthuis in Bloemfontein verskuif. Gideon het gesê die binder kan maar hier staan. Ek het die tikwerk van al die bydraes gedoen, op Google na geskikte foto’ gesoek, ook ‘n voorbladfoto gekry en besluit waar die onderskeie foto’s geplaas moes word. Jan-Chris het die foto’s dan die regte grootte en regte kleur gemaak, op die toepaslike plek gesit en die regte kleur en grootte raampie om die foto geplaas. En glo my, so dikwels het die foto’s soos malgoed op die bladsye rondgehardloop. Sonder Jan-Chris sou daar die afgelope paar jaar nie ’n Skakels kon verskyn nie. Veral wat die voorblad betref, was hy ’n perfeksionis. Hy het gesny aan die foto tot dit nommerpas was. Op die ou end het hy die blad gebind. Baie, baie dankie, Jan-Chris!! Daarna kon ek dit uitdruk en vir Jonker pos, wat dit weens die stadige posdiens tussen Bloemfontein en Klerksdorp eers ses weke later ontvang het. Vir baie familielede met e-pos-adresse het ek ’n Skakels ge-e-pos en soms reaksie gekry.

En nou ’n spesiale woordjie van dank aan Jonker vir al die jare se redakteurskap, rondrol om geskikte temas vir die volgende Skakels te kry en sy besondere bydraes, wat ons sal mis. Baie dankie ook aan Agnes en Helena, wat dikwels Agnes se bydraes getik en geskikte foto’s saamgestuur het. Dankie ook aan Gideon, Cecile en Heila, vir jul bydraes van die verlede en die hede.

Mag julle almal ’n geseënde Kersfees en ’n voorspoedige, rustige 2021 tegemoet gaan.

  • Stoffel

Agnes vind vreugde binne en buite die huis

Wat ‘n vreemde tema is dit nie – Dinge in en om die huis. Daar is baie min wat ooreenstem. Want wat buite is, is gewoonlik nie binne nie!

Binne is belangrik. Buite kan dit beskadig word, maar binne is dit veilig. Veilig teen wie of wat? Teen reën? Ja beslis, want reën kan beskadig maar reën kan ook goeie gevolge hê. Reën laat die gras groei maar ook die bossies! En reën gee ook die mens werk want die bossies moet uitgetrek word en die plantjies moet versorg word.

Plantjies in die huis? Ja, sekerlik solank hulle klein is. Maar daar kom ‘n tyd vir buitekant. In die huis word die plantjies wel versorg maar dan kom die volgende fase.

Plantjies word uitgeplant buite en verder versorg. En dan kom die oes, want wat eers in die huis was, moet nou buite wees voor die oes kan kom. Wat ‘n vreugdefees!


Jonker gesels met die blomme in sy tuin

Ek en Cecile geniet eendag ons middagmaal onder die lapa. “Hoeveel plante en struike is hier op ons erf?” vra ek. Toe begin ons tel. Ons kry meer as dertig. Elkeen is deur onsself geplant vandat ons sewentien jaar gelede hier ingetrek het. Toe was hier niks. Ek gaan nou bietjie met ’n paar van hulle gesels.

Asalea,  jy het sewentien jaar gelede saam met ons hierheen getrek. Jy staan steeds in dieselfde plastiekpot geërf uit ons Trust Bank-dae. Jou blommeprag elke jaar wat groei uit klein knoppies tot dubbeldoor, bloedrooi blomme was nog altyd ’n fees vir die oë. Ek sal jou altyd hier om die huis onthou.

Sipresboompie, ek het van jou ’n miniatuur van slegs twee meter hoog gemaak. Van nature sou jy tot ses of sewe meter hoog kon word. Toe jy gekoop is, het ons jou in ’n 1,6m-pot geplant. Die pot kom van Cecile se ouers se grafte af. Dit het daar vergete in wind en weer gestaan. In dié pot groei jy toe topswaar en word met die geringste wind omgewaai. Teruggeplant in moederaarde behou jy jou halfmasgrootte. Jou immergroen blare dwarsdeur die jaar toon altyd ’n groen, gelukkige kleur. Jou sal ek altyd onthou.

Ou verbleikplant, jy, my ou maat, het amper nie vandag hier teenaan ons lapa gestaan nie. Die dag toe jy gekoop is, was ek maar dikbek. Twee keer het ons probeer om jou te plant en twee keer het ons misluk. Cecile wou egter hê ons moet ’n derde keer probeer. “Plant hom aan die oostekant van die huis. Hy wil elke more die son eerste groet,“ kry ons raad by ’n ervare helper by die kwekery. Ons maak so en jy groei in alle glorie hier halfpad in en om die lapa se grasdak. Jou oorweldigende blomme in blomtyd en die sterk laventelreuk is verruklik .

Dag, meneer bougainvillea. Moenie vrees nie, ek het nie vandag my snoeiskêr by my om jou wildgroeiende takke in bedwang te bring nie. Ek sê maar net dankie vir jou halfronde raam wat jy vorm tussen die hoek van die huis en die tuin. Ek sal altyd jou wilskrag om te groei ná elke koue winter onthou.

Katjiepiering, jy is Cecile se troetelkind. Sy behandel jou gereeld met asynwater en Engelse sout. Vanjaar het jy gewys hoe jy kan blom. Jou heerlike laventelreuk was bonatuurlik.

Ek staan by die graf van die hibiskus. Vorige jare vanaf vroeë lente tot laatsomer het massas pieringgrootte dubbele blomme uit jou gegroei. Toe kom die 2020-minus-8-winter en alles gaan dood. Die dooie takke skrei ten hemele en ek snoei alles af. Toe, tot my verbasing, verskyn daar enkele blaartjies heel onder op die dooie takke. Niks is ewig nie. In ons lewensjare moet ons ook maar die ryp van die ouderdom beleef. Tog is daar steeds fyn blaartjies waaraan ons vasklou om te bly leef.

So onthou ek die dinge van my huis en my tuin.


Cecile vertel die geskiedenis van ’n vyeboom

Toe ons in 2003 hier in Klerksdorp intrek, was dit ook die tuiste van sus Joey en swaer Fanie. Faan het emfiseem gehad. Vroeg elke oggend het Jonker sy Beeld gelees, dan gaan hy na Faan-hulle toe. Ná sy tweede koppie koffie daar, los hy sy koerant vir hulle.

As gevolg van Faan se siekte moes hulle na Zeerust-ouetehuis verhuis. Hulle moes totsiens sê vir hulle mooi vrugte- en groentetuin. Die dag met die groot trek gee Faan opdrag aan Koos die tuinier om ’n jong vyeboompie uit te haal en vir ons te gee.

Ons plant Meneer Vyeboom en vind ná ’n paar maande uit dat hy kwyn. Ons verplant die vyeboom agter die houthuisie, waar hy welig groei. Dit is nou sestien jaar ná Faan se afsterwe.

Swaer Japie het gesê ’n mens snoei nie ’n vyeboom nie. Hy was verkeerd. Ons snoei die vyeboom elke jaar, want hy groei buite beheer hoog. Elke jaar einde Desember begin Januarie dra die boom ’n magdom vye. Dan is dit ’n stryd tussen ons en die voëls oor al die ryp vye.

Dit is dan die tyd dat ons voltyds vyekonfyt moet kook. Ek wonder of Faan kan sien hoe ons ongeveer sestig klein botteltjies konfyt as liefdesgeskenkies vir familie en vriende uitdeel.

’n Klein geskenkboompie wat ’n massiewe groot boom geword het, Wat ’n vreugde!


Vir Stoffel is ’n huis baie plekke in een

Die vier mure waarbinne ons bly, as ons in ’n kamer bly, gee ons ’n gevoel van veiligheid. Want dis ons s’n. Bly ons in ’n huis met baie kamers, voel ons geborge. Die dinge in en om die huis is ons s'n. Hier leef ons ons uit.

Ek lees nog, soos Pappie, daagliks die Bybel en Uit die Beek. Die Bybelvertaling en die skrywer van laasgenoemde is nie meer dieselfde nie. En woorde soos huisaltaar, huisgodsdiens en boekevat het ietwat in onbruik geraak. Want gesinne kom nie meer so gereeld om die Woord byeen nie. Waar pa uit die Bybel lees, elke kind sê wat hy “onthou” het, elkeen bid en daar by ’n “harmonium”, “serafyntjie” of “musiek” saamgesing word.

’n Kaggel was vroeër in die winter onontbeerlik in baie huise. Op Winddam het die klein, swart Queen-stofie, wat met mieliestronke warmte verskaf het, ons gesinnetjie gebind. Ná 75 jaar doen dit nog sy werk in Gerhard se huis in Pretoria.

Omdat ek van kindsbeen af met boeke grootgeword het, het ek in st. 9 lank gespaar om my eie boekrak by Lindley se skrynwerker, mnr. Hilton, te laat maak. Dit het my twee pond 12/6 aan “ou geld” gekos. Dit was egter ’n baie goeie belegging want die vier-rak-boekrakkie makeer ná 65 jaar nog niks nie. Sedert 1955 doen dit getrou diens en staan vandag nog in my studeerkamer.

Later het ’n TV die sentrale voorwerp in baie huise geword. Ons het ook maar TV-skinkborde gekoop, daarby geëet en saam TV-programme gekyk. Saans het ons roetine volgens die TV-programme verloop.

’n Huis is ’n geboorteplek. Fisies, want ek is op Winddam gebore. Maar ook figuurlik, want danksy die Christelike waardes wat ek van Pappie en Mammie en my ouer susters, swaers en broer ontvang het, het ek darem nie te wild grootgeword nie. Toe al vyf kinders ons ouerhuis al verlaat het, besluit ons met ’n kuiertjie in 1957 gesamentlik om met ’n “familiekoerant”, die Westewindmoeite, te begin. Ná 63 jaar verskyn uitgawes van die koerant steeds by spesiale geleenthede soos huwelike of mylpaal-verjaarsdae. Die jongste WWM het onlangs met Gerhard se 50ste verjaarsdag verskyn.

Ook is ’n huis ’n troosplek. Dit weet enige kind wat op die sportveld of by die skool sy of haar kop gestamp het. Tuis sal daar altyd begrip en troos wees, veral by ma, al is die teleurstelling ook hoe groot.

Die klaskamers by skole is deesdae oorvol leerders. Dit kan daarom jare al nie meer van onderwysers verwag word dat hulle opvoedingswerk ook moet doen nie. Daardie taak is die ouers s’n. Dit is opmerklik hoeveel leerders uit enkelouergesinne kom. Onderwysers praat partykeer van probleemouers. Kerk, skool en gesin bly drie boustene van ’n gesonde samelewing waarin elkeen sy plig moet doen.

Josua was ’n pa wat sy plig geken het. Teen die einde van sy lewe vra hy die volk wie hulle wil dien. Hy het klaar besluit, sê hy.”Maar ek en my huis, ons sal die HERE dien (Jos 24:15)”. En só vas staan Josua in sy geloof, dat die hele volk daar en dan besluit: ook hülle sal die HERE dien.

Verrassend is Rut se besluit oor ’n huis: sy, ’n Moabiet, laat vaar haar geloof en haar volk. Voortaan bly sy by Naomi; word Naomi se huis, haar volk, haar godsdiens ook Rut s’n. En só kom Rut, die Moabiet, se naam in die geslagsregister van niemand anders nie as … Jesus! (Met ook Ragab se naam daar!)(Matt 1:5)

Wonderlik hoe verreikend die regte keuse kan wees!


Heila verkyk haar aan die voëls wat kom kuier

Meeste van ons het in groot huise met groot erwe grootgeword. Party het op plase gewoon en kon baie interessante dinge daar leer. Nou het ons ’n klein tuintjie.

Eendag sien ek hoe drie mossies kossies op die grasperk voor ons slaapkamer soek. Dis blykbaar ’n pa- en ma-mossie met ’n honger kleintjie wat heeltyd skree vir nog kos. Die arme pa en ma kan nie die gulsige klein vraatjie vinnig genoeg voer nie!

’n Rukkie later land ’n hoep-hoep met ’n sierlike boog op die grasperk en snuffel met sy lang bek kos uit die gras uit. Die voëltjies begin my interesseer. Ek word ’n ywerige toeskouer van veral die verevolkies se eetgewoontes.

Ek gaan koop kos vir tuinvoëls en gooi dit in ’n groot bak voor die slaapkamer se venster. Daar is ook ’n afsonderlike bak waar die voëls water kan drink of hulleself kan was.

Tientalle mossies het dadelik toegesak op die saadbak. Ook ’n geelvink het bygekom. Toe ek my oë weer uitvee, is daar ’n groot groep tortelduiwe wat kom deel in die partytjie. Maar is hulle geniepsig! Veral een mannetjie. Die kleiner voëltjies word bespring en verjaag vir ’n vale. En ek het altyd gedink ’n duif is ’n vredeliewende voël. Allermins!

Tog, toe ek een van die tortelduiwe by die waterbak sien, kon ek nie help nie om die eerste strofe van ’n gedig van Totius te onthou:

’n Sprokie

Ek ken ’n mooi klein sprokie

wat so na waarheid klink

dis dat die tortel altyd

sy water troebel drink.

 ’n Paar jaar gelede het swaeltjies ’n nessie onder ons stoepdak gebou. Pa en ma het ywerig nes gebou. Nou is hulle seker elders doenig. ’n Geelvink pluk nou ons Golden Johannesburger-struik se takkies om nes te bou.

Ek lees iewers dat voëls eers ’n nessie (huisie) bou voordat hulle kindertjies het. Party mense kan by hulle leer!

Vroeg in die oggend hoor ek al die voëls se getrjirp. Hulle vra kos. Hulle sit en wag op die muurtjie. Te dierbaar. Hoe kan ek weier?


 Gideon toor by sy draaibank mooi voorwerpe uit

Ek het eenkeer, nie lank gelede nie, vertel van die ou houthouertjie waarin my pa sy tuiegereedskap gehou het en die betekenis wat dit vir my het. Tydens die inperking het ek dikwels daarna gekyk en besluit eendag gaan ek vir myself so ’n houertjie maak.

So twee weke gelede het ek by Macro se pandjieswinkel ’n draaibank gesien en dit aangeskaf. Sedertdien het ek met plankies begin speel en dit is waarmee ek my tans besig hou. Op die vraag waarmee hou jy jou in en om die huis besig, wys ek julle graag die vrug van my besigwees op die foto’s op die volgende bladsye.

Lekker knutsel.