Wat doen ons in grendeltyd? Sept 2020

September 2020

Sowaar!

Ná 61 jaar

is ons nog daar

vir mekaar!


Met die grendeltyd waaraan ons al amper gewoond geraak het, lyk dit of ons ’n mooi lente kan verwag. Dat die tyd van inperking ’n vreemde belewenis is, is sekerlik waar. Dit is veral die oueres in die tehuise vir bejaardes wat die swaarste getref is.

’n Groot dankie vir hierdie kwartaal se Skakels-bydraes. Ons gaan weer lekker lees, soos met die Winddam-bydraes. Dit is veral verblydend om te hoor hoe ver die trefwydte van die Winddam-album was.

Tye verander drasties, feitlik oornag. Dink maar aan Rooi Rose en Vrouekeur wat gesneuwel het. Ook Volksblad moes maar in ’n stootstoel beland om te kan oorleef. Ons wat ouer word, moet as gegewe aanvaar dat dinge só gebeur. Herposisioneer jou of jy bly agter.

In aansluiting tot ’n vorige onderwerp (Hoe het hulle/ons destyds reggekom?), is ons tema vir die Desember-uitgawe: Iets outyds binne of buite die huis wat ek onthou. Dink maar hoe ons gevorder het van eenskaarploeë en osse tot trekkers. Daar was die Singer-naaimasjiene wat getrap moes word, wat plek gemaak het vir vinniger elektriese masjiene wat wonders doen. Dink terug en skryf, want ons wil graag lees wat jy onthou. Bydraes moet Stoffel voor 1 Desember bereik.

Ons hartlike gelukwense aan Heila met haar verjaarsdag op 20 November. Net die mooiste en beste vir jou in jou nuwe lewensjaar jou toegewens.

Helena laat weet Agnes stuur nie hierdie keer ’n bydrae nie. Alles in die haak, ou suster, ons verskoon jou met  liefde.

  • Jonker 

Waarom Gideon se hoop op Donald Trump gevestig is

 Wat het ek gedoen tydens die inperkingstyd? Ek het gelewe maar sonder veel van die dinge wat ons as normaal aanvaar. Ek het gedink en gewonder maar ook geleer dat ons dikwels met ’n witbrood onder die arm oor beuselagtighede kla. Maar ook geleer dat gewone bedagsaamheid soos ’n foonoproep betekenisvol kan wees.

Om die tyd om te kry, het ek gelees en oudioboeke geluister, my breimasjien afgestof en ’n spul serpies en kniekombersies gebrei. Terloops, as daar van die oues is wat so iets nodig het, laat net weet – die inperking is nog nie verby nie.

Natuurlik moes ek ook nog herstel van ’n rugoperasie. Die proses is nog nie afgehandel nie maar sommige tye van die dag en snags hoop ek dat die operasie suksesvol was.

Die buurman het my geleer van die Amerikaanse politiek en waarom die huidige president net ’n kortkop beter is as Idi Amin. Hy was nie seker waarom óns president onder die pantoffelregering van mev. Zuma staan nie en moes soos vele ander deur sy nek betaal vir smokkelsigarette.

 Gelukkig het ons met rantsoenering ons laaste sonondertjie kon klink die dag voordat verkope van drank weer toegelaat is. Oor die herinstelling van die drankverbod wil ek liewer NIE PRAAT NIE. Het wel geleer wat die Amerikaners bedoel wanneer hulle slegte drank “gut rot” noem. Die swartmarkdrank was afskuwelik.

 Nou bly die laaste twee fases oor.

 Kom ons hoop dat Trump wel ’n entstof voor die verkiesing sal kan bekendstel, want anders kan die fases en wat daarop volg nog lank met ons wees.


Gryp elke dag, dan is daar steeds hoop, sê Jonker

 Pappie was as ouderling baie pligsgetrou. As iemand in sy wyk siek geword het, het hy gereeld siekebesoek afgelê. Ek het ’n paar keer saamgegaan. Hy het sy besoek altyd afgesluit met ’n opregte gebed dat die kranke wie se lewenswa tydelik tot stilstand gebring is, volkome sal herstel.

 Covid-19 het nie net mense in huise in ons land nie maar wêreldwyd se lewenswaens tot stilstand gedwing. Inperking het van jou ’n gevangene in jou eie huis gemaak. Die daaglikse roetine is in ’n gans ander baan geplaas.

 In ons huishouding was die moeilikste aanpassing om geen kerkbesoek te mag bring nie. Ons het nogtans by die Sondag-ritueel van stort en ek by skeer gebly. Skoongeskrop het ons om negeuur ingeskakel op RSG se erediens-uitsending. Ons kon darem ook luister na ons eie leraars se elektroniese preke. So het ons elke Sondag vier preke gehad. Ons kon dus op ’n Sondag goed gekerk word in ons eie huis.

            Afgesien van al die oorlogswolke met hul donker voorspellings het ons ook ’n paar humoristiese opmerkings in Beeld se SMS-rubriek raakgeloop. Die verveelde kleuterdogtertjie sonder maatjies en wie se skool gesluit is, vra vir haar mamma: “Wanneer sal die skool nie meer siek wees nie?” Met die brandewynverbod was daar sprake dat Coke ook onttrek gaan word. Die Coke-omset het glo te veel gedaal. Op taalgebied is ’n nuwe woord gebore: “grendelwendel”.

            Die koue dae van Augustus laat die lente talm om aan te breek. So glo ons dat die getalm en onsekerheid van die grendeltyd ook sal verbygaan. Mag elkeen van ons paraat wees om die nuwe wêreld te aanvaar.

            So ’n jaar of twee gelede het ek ’n sonliglampie gekoop. Bedags is dit deur die sonlig gelaai om saans ’n vriendelike blou liggie in die huis te verskaf. Toe sterf die selflaaibattery en die liggie is dood. Toevallig ontdek ek dat ’n gewone penligbattery dieselfde lig verskaf. Nou skyn die blou liggie weer tussen die varingblare. Vir ons word dit ’n liggie van hoop. As jy hoop verloor het, het jy alles verloor. As jy nog nie hoop verloor het nie, het jy nog niks verloor nie. Carpe diem! Ons gryp elke dag wat kom, dan is daar steeds hoop.


 Stoffel reken selfs hierdie nare ou grendeltyd het ’n silwer randjie

 Ronde jaargetalle is besonders: 2000 was die begin van die millennium; 2010 die Wêreldbekersokkerjaar en 2020 is die Koronavirusjaar. Einde Maart vanjaar hoor ons die Engelse woord lockdown, en sy nuwe Afrikaanse eweknie, grendeltyd, word gebore. Skielik moet ons aanpas, buite ons gemaksones leef. Ons word ingeperk, want die verspreiding van die virus moet ten alle koste gekeer word. Die land word gesluit, lui een koerantopskrif. Brasilië is roekeloos en betaal gou ’n duur prys aan menselewens. Nieu-Seeland, daarenteen, is versigtig en is die eerste land om ná honderd dae virusvry te wees.

Die beperkings van die aanvanklike vyf vlakke – by die skrywe hiervan trek ons darem by vlak twee – is irriterend. Ons almal mis ons eredienste, ons kuiers by vriende en familie, ons inkopies, ons besoeke aan restaurante en sommer net om te gaan waar ons wil. Oral hoor ons van die ekonomie wat verswak, van werkloosheid en armoede as gevolg van die inperkings. Ons kyk nie meer op TV na sportwedstryde nie. Ons kan nie kultuurbyeenkomste of flieks bywoon nie. Talle geleenthede word gekanselleer. Die isolasie voel soos huisarres. En die gedurige ontsmettery, handewassery, maskerdraery en wegstaan van mense!

Twee teenoorgestelde vrae word in hierdie tyd gevra. Eerstens, hoeveel gemeentes gaan die pandemie oorleef? Talle lidmate is nou gewoond om nie meer bydraes aan kerke te gee en eredienste fisies by te woon nie. Gemeentes smelt saam. Veral plattelandse gemeentes kan nie meer leraars bekostig nie. ’n Ander groep mense vra gedurig wanneer word die verbod op die verkoop van tabakprodukte en drank opgehef. As die president sy “fellow South Africans” toespreek, hoor ons van nuwe regulasies, korrupsie en polisiebaasspelery. Soos die grendeltyd vorder, besef ons darem dat die herstelkoers landwyd verbeter. By die skrywe hiervan is dit 87%, vergeleke met die gemiddelde wêreldwye herstelkoers van 64%. Etlike bekendes is al weens kovid-komplikasies oorlede. Daar word egter steeds gewaarsku: Pasop vir ’n tweede golf!

Verskeie ligpunte verskyn gelukkig ook. Die grendeltyd sal verbygaan. Soos die Babiloniese ballingskap en die Anglo-Boereoorlog ’n einde bereik het. Hierdie vreemde tyd is net maar nog ’n periode in ons lewens. Natuurlik kry ons swaar en word ons beproef. Martin Luther het gesê: “As ek lank genoeg lewe, wil ek ’n boek oor beproewings skryf, want daarsonder kan ’n mens nie die Bybel of geloof verstaan nie. Daarsonder kan ’n mens nie ontsag en liefde vir God hê nie. As ons nooit gely het nie, kan ons nie verstaan wat hoop is nie.”

 Gesinslede het in hierdie tydperk nader aan mekaar gekom, ook vanweë tuisonderrig. Vriende bel mekaar meer. Ou kennisse skakel van ver. Tegnologie word beter ingespan vir Woordverkondiging en bemoediging. Ons het mekaar se behoeftes beter leer ken en gevolglik meer spesifiek vir mekaar leer bid. Bekendes help steeds mense in nood by sopkombuise en deur kospakkies uit te deel. Liters brandstof is bespaar want ons het geleer om reg te kom met wat ons het. Ons het minder griep en verkoue gekry. Ja, selfs hierdie nare, onwelkome ou grendeltyd, wat nou aan die verbygaan is, het inderdaad ’n silwer randjie.


Grendeltyd het Heila stil en dankbaar gemaak

Wat ’n uitsonderlike vreemde maar tog rustige (vir my) 2020 tot dusver. Die gevaarlike virus daar ver in China het ons hier in Bloemfontein kom bewus maak van ’n ander werklikheid. Toe kom grendeltyd in ons lewens. Skielik moet ons net tuisbly, toegesluit in ons huise! Dit was ’n aanpassing, maar ek het die heerlike sonskyn in die herfstyd geniet, veral buite in die tuin.

Gelukkig het ek gou besef hoe dankbaar ek moet wees om saam met ’n verstandige en geduldige man deur hierdie tyd te gaan. Ons het grootliks by ons roetine gehou en die dae en weke het rustig verbygegaan. Ek het bewus geraak van al die genadegawes wat ons van ons hemelse Vader ontvang: veiligheid, rustigheid, genoeg kos en warm klere. Ons kon tuis steeds e-boeke by die biblioteek uitneem en lees, TV kyk, koerant lees en na konserte op YouTube kyk.

Ek het dit geniet om nuwe en ou geregte in die kombuis te maak. Daar was aanvanklik geen beurtkrag nie en nog baie ander voorregte. Vir my as “Baby Boomer” wat van kindsbeen af gewoond was daaraan dat iemand die huis skoonmaak, was huisskoonmaak ’n nuwe avontuur. Min het ek geweet die “avontuur” sou vyf maande duur!

Die lang, koue winter was ook ’n tyd van hibernasie, ontspanning en oordenking. Ons het die meeste van die tyd in ons slaapkamer in ons sonnige sonhoekie deurgebring.

Op geestelike gebied was daar baie tyd vir Bybelstudie. Ons predikant het daagliks oordenkings op WhatsApp gestuur wat ek kon lees en oordink. Saans bestudeer ons Barend Vos se stukke in Uit die Beek. Om Sondae na ’n erediens op YouTube te kyk, was aan die begin vreemd. Ons het egter gou daaraan gewoond geraak. Dis wonderlik om op hierdie manier deel te wees van die gemeenskap van die gelowiges.

Ons gemeente is betrokke by Torings van Hoop (voorheen die Tweetoringkerk) in die middestad van Bloemfontein. Om toebroodjies en pap te maak vir honger mense was ’n diens wat ek met groot vreugde gedoen het.

Ja, Grendeltyd sal ek altyd onthou as ’n tyd van stilword en dankbaarheid vir voorregte wat ek vroeër as vanselfsprekend aanvaar het.