Sowaar!
Ná 61 jaar
is ons nog daar
vir mekaar!
Ja sowaar, ons is al weer in die helfte van die jaar! Dit is ’n unieke jaar, voorwaar. Niemand het ooit kon droom dat 2020 só sou uitdraai nie.
Die tema van ons September 2020-uitgawe sluit dan ook by die vreemdheid van hierdie jaar aan: Grendeltyd, stilstaantyd: Hoe het ek/of ander mense hierdie tyd tot dusver ervaar? Vertel nie net wat jy self deurgemaak het nie maar ook van die soet en suur, die lagwekkende en die hartseer dinge wat in hierdie tyd rondom jou gebeur het.
Dat sake verander het en nog verder gaan verander, is gewis. ’n Mens wonder maar hoe en wat nog gaan gebeur.
Julle bydraes moet by Stoffel wees voor 1 September 2020.
Dit was met nostalgie dat ons die vorige uitgawe se bydraes oor Hoe het ons/hulle destyds reggekom? gelees het. Elkeen se bydrae was verfrissend en interessant. Veral besonders was die bydraes van Cecile en Heila. Dankie, julle. Skryf asseblief weer!
3 Augustus en 20 November is besondere datums. Dit is naamlik Agnes en Heila onderskeidelik se verjaarsdae. Net goeie en liefdeswense word julle toegewens. Mag julle elke liewe dag van julle nuwe lewensjaar lewensvreugde en goeie gesondheid beleef.
- Jonker
Agnes kom op Winddam voor dooiemansdeur te staan
Eenjaar was ek saam met Nelis en Riana by Clarens in die Vrystaat met vakansie. Op pad terug bied Nelis aan dat ons Lindley omry en gaan kyk hoe dit op Winddam lyk.
Toe ons Lindley inry, is daar ’n man wat ons vriendelik groet. Nelis hou dadelik stil en gaan gesels met hom. Hy onthou vir Jansie baie goed. Sy het vir hom skoolgehou en sy het blykbaar verkies dat die kinders haar Juffrou Jansie noem.
By die begraafplaas gaan soek ons Mammie en Pappie se grafte, trek bossies uit en maak die grafte bietjie netjies. Ongelukkig het ons nie blomme gehad om op die grafte te sit nie. Dankie Nelis, dat ons daar kon stop!
Ek raak haastig om by Winddam uit te kom. By Austin se bome ry ons verby en ja, daar is die Winddampad: veilig toegespan en Winddam se hek met ’n slot gesluit. Wat ’n teleurstelling!! Toe merk ek op dat al die afdraaipaaie toegesluit is.
Ons ry verder en sien weer ’n man wat staan en koffie drink. Nelis gaan groet en hy sê ook dat hy vir Juffrou Jansie onthou. Die man vertel ons dat hy op Petrus Steyn boer. Hy het die plaas gekoop, bewerk die lande en hou sy beeste daar aan. Die huis word bewoon deur anderskleuriges. Hulle sit seker lekker op ons rooi bank in die son. Wonder of hulle in die sinkdam swem?
Ek wonder of die tuin met sy vrugtebome nog daar is. Ek onthou hoe ek buite in die skaduwee van ’n vrugteboom geleer het vir die st 8-eindeksamen. En die heerlike stoep waar ons so lekker gekuier het. En saans in die eetkamer met die groot lamp het almal sit en lees in Die Huisgenoot of Die Jongspan.
Pappie het so half lê en lees in Die Huisgenoot. Dan lig hy sy bril op om ’n traan te laat afloop van die tragiese verhaal in die tydskrif. Pappie wat so graag gelees het. Mammie was te besig met die huishouding en klere regkry vir die spannetjie wat moet skool toe gaan.
Hannatjie in die hoërskool, Agnes en Jansie op die trêppie met die een perd na die Laerskool Brakdraai, ’n eenmanskool van sub A tot standerd 5 of was dit st. 6? Daarna was dit hoërskool.
En toe trek Pappie en Mammie ook dorp toe. Vir my was dit maar moeilike of liewer eensame tye want die ander meisies was vriende van sub A af. Ek slaag darem en gaan daarna na die Opleidingskollege in Bloemfontein vir twee jaar om ’n juffrou te kan word.
’n Hoogtepunt destyds was toe die Nasionale Party die verkiesing gewen het. ons klomp studente het vreugdedanse in die strate van die stad uitgevoer. Daarna het ek onderwys gegee, ’n jaar op Petrus Steyn en toe op Hennenman waar ek my lewensmaat ontmoet het.
Bloemfontein was ’n waardige hoogtepunt vir ons Vrystaters.
Waar is die dae toe die buurman gou ’n koppie boeretroos kom drink het? Nou moet jy ’n afspraak maak en onthou die sleutel vir die hek voor jy na jou buurman toe ry.
Nou ja – ek bly nou in die stad en ons deure is altyd gesluit – jy weet nooit … Buurmanskap soos in daardie jare, gou oorry om ’n lekker koppie boeretroos te gaan kry, bestaan nie meer nie. Helaas!
Gelukkig is daar darem nog telefone.
Winddam is die plek waar Gideon gelukkig was
Vir my was al Pappie se plase maar Winddam. Daar was Winddam met die ou kliphuis en die turksvybome, daar was Winddam met die populierbos, Winddam met die mielielande en Winddam met die stroompie vol rotse en visse. Elkeen onthou ek op ’n ander manier. Die onthou is gekoppel aan Winddam se mense en ons saamdoen van dinge.
My eerste besoek aan Winddam was nogal opwindend. Dit was oestyd en die sakke met mieliekoppe moes na die huis vervoer word. Die uwe wou wys dat hy darem ook iets van boerdery weet en het die sakke met mening op die wa reggepak. Ongelukkig het my boerehande ná twee jaar op die dorp sag geword en die growwe sakke het al die velle aan die bokant van die vingerpunte afgeskuur. Toe moes die meisie wat ek wou beïndruk maar salf aan die sagte handjies smeer, terwyl haar broer geamuseerd toekyk. Pappie was darem vol lof vir die aspirant-skoonseun wat mielies gelaai het dat die bloed spat.
Later, tydens dieselfde besoek, kon ek darem iets doen om in die estimasie van Winddam se mense te styg. Jansie het vertel van die tarentale in die populierbos en ons het soontoe gestap. Ek was gewapen met my Ruger-pistool maar my gedagtes was meer by die meisie langs my as by die tarentale.
Ná ’n lang maar aangename wag het dit begin donker word en die tarentale het in die bome gevlieg. Teen daardie tyd was dit so donker dat ek geen korrel meer kon sien nie, en en ek was tevrede dat die tyd saam met Jansie vergoed het vir ’n onsuksesvolle jagtog.
Toe wys sy met haar vinger na ’n swart kol in een boom en fluister: “Daar’s een!” Vir my het die swart kol na ’n stuk voëlent gelyk, maar om darem oorgehaal te klink, het ek die pistool in die rigting van die kol gewys, langs die loop gekorrel en die sneller getrek. Toe die skoot klap, het die swart kol soos ’n kluit uit die boom geval.
By nader ondersoek het geblyk dat die swart kol toe wel ’n tarentaal was en dat ek hom deur die nek geskiet het. Die prestasie van ’n tarentaal met ’n pistool deur die nek te skiet het Pappie met smaak vertel aan almal wat oor die aspirant-skoonseun uitgevra het.
Nog ‘n jagervaring op Winddam was die aand toe ek in Stoffel se teenwoordigheid drie tarentale met een skoot met my .22-geweertjie geskiet het. By nabetragting lyk dit asof ek die jagprestasies onthou juis omdat daar so ’n groot element van geluk daarby betrokke was.
Geluk het seker ook ’n rol gespeel toe Stoffel die grootste geelvis gevang het al moes ek vir hom sy hengelgerei regkry.
Eintlik is Winddam vir my die plek waar ek gelukkig was, toe my lewe nog heel was. Erens tussen my foto’s is daar een waarop Jansie, Pappie, Mammie, ekself, my ma en Gerrie op die rotse in Elandspruit sit. Nou sit ek alleen en wag…
Jonker en die Winddam-Towerfluit
Met apologie aan die Hoërskool Lindley, pas ek die skoollied soos ek dit destyds geken het, aan en sing: “Winddam, Winddam, heil aan Winddam, hoog ons plaas se naam! Ons roem ons plaas, net waar ons gaan, Versprei ons wyd sy faam!”
Winddam was Winddam omdat daar altyd water was in die sinkdam en in die groot gronddam. Die twee brieklose Samson-windpompe het dag en nag water in die damme gepomp.
As die somerreën goed geval het, het die takspruit van die Elandspruit met sy diep kuile vinnig langs die populierbos verby gevloei. Fluitjiesriet was dan die woonplek van talle vinke.
Omdat ek sewe jaar lank ’n boer op Winddam was, kan ek met dankbaarheid sê dat ek meer helder Winddam-water gedrink het as my broer en drie susters.
Mense maak ’n plaas. Vir Winddam het Pappie en Mammie dit reggekry. Ons kinders is opgevoed in eng gereformeerde beginsels. Godsdiens was dominerend in ons lewens. Daarvoor is ek dankbaar teenoor my gelowige ouers.
Pappie se emosies kon maklik met hom wegloop vanweë sy sterk gevoel oor sake. Dan was Mammie altyd sy anker met: “Jan, dit is darem nie so erg soos jy dit nou maak nie.”
Hulle kon ure aaneen redeneer oor beginselsake, bv. of kelkies by die nagmaal aanvaarbaar is. Pappie het gesê die Woord sê drink almal uit die beker. Vir Mammie was dit ’n uitgemaakte saak dat die kelkies die klein bekertjies was waaruit almal gelyktydig kon drink.
Saterdagaande het ons oor die radio na U Eie Keuse geluister. As jongman het ek ’n passie vir operamusiek gehad. My gunsteling was die aria Die Koningin van die Nag uit Die Towerfluit van Mozart. Ek was in ekstase as dit gespeel word.
Vir Pappie was dit om die een of ander rede ’n Hollandse, irriterende gegil. “Sit af die tulpvreters se geskreeu,” het hy dan gesê. “Dit maak net die battery pap.” Dan kon ek huil van frustrasie.
Die Towerfluit het vir my ’n metafoor van my Winddam-lewe geword. Die innige skoonheid daarvan het ’n hunkering in my geword van hoe die lewe kon wees. Dit het vir my die lewe ingekleur tot aanvaarbaarheid.
Pappie en Mammie het die Winddam-Towerfluit geblaas. Hulle was die sement wat ons kinders en hul gesinne aanmekaar geheg het. Winddam het die plaashuis, die kuierhuis, die rushuis geword, waar almal welkom gevoel het.
Maar Winddam het op die ou end ’n wildsplaas met wildsomheinings geword met ’n ontoeganklike huis.
Ek wonder of die blouwindswaels nog nesmaak onder die veranda voor sus Hannatjie se kamer. Ek dink die Samson-windpompe het met die tyd geknak. Die windpomptorings staan seker vandag nog as grafstene van ’n tyd wat verby is. Die damme het seker opgedroog.
Nou, na baie jare, luister ek en my geliefde Cecile getrou elke Saterdagaand na U Eie Keuse. As die Towerfluit-musiek nou gespeel word, dink ek met hunkering terug aan die Winddam-Towerfluit.
Die dag toe Winddam verkoop is, het ek Pappie gevra waarom so, want in my agterkop wou ek die Winddam-lied laat voortgaan. Hy het geantwoord: “Ou seun, alles is maar wêreldsgoed, tydelik aan ons geleen. Ons is op pad na die ewige huis van geluksaligheid in die hemel.”
Vandag, in die rype ouderdom van bykans 84 jaar, besef ek eers die waarde van dié woorde. Die lied van die Towerfluit van Winddam is vasgegroei in die gemoed van almal wat Winddam geken het.
Stoffel het ’n kosbare, drievoudige herinnering: Pappie-Mammie-Winddam
Ek is gelukkig dat die onafskeidbare Vrystaatse drie-eenheid Pappie-Mammie-Winddam my lewensgrondslag kon wees. Want daardeur, om net een voorbeeld te noem, het ek sonder kategese die goddelike Drie-eenheid leer ken. Vergesel my na Winddam om by wyse van flitse my bevoorregte lewenspad te bewandel.
Voorskools
Pappie was ’n konsentrasiekampkind, ek ’n oorlogskind. In die jaar toe Wêreldoorlog II uitbreek, word ek op 9 Februarie 1939 op Winddam gebore as ’n sg. “blou baba”. Ek was ná geboorte ’n halfuur lank blou in die gesig. Maar ek het dit oorleef, anders as die tweelinkie ná Jansie.
Papier was altyd vir my kosbaar. Op die ashoop langs die gronddam het ek klippe op al wat papier is gepak sodat dit nie wegwaai nie. Geen papier mag in die Queen-stofie verbrand word nie. Tot ’n juffrou op die plaas kom kuier en my oortuig dat blou feëtjies in die vlamme verskyn as stukkies papier brand.
Ene juffrou Blignaut kuier op Winddam en sê vir my ek is oulik, sy wil met my trou. Sy raak verloof. Toe sy weer op die plaas kom, skreeu ek vir haar: “Ou Babbelbek!” My eerste liefdesteleurstelling.
In ’n ou varkhok hou Mammie eendjies aan wat uitgebroei het. Nuuskierig hol ek agter hulle aan en gryp een aan ’n poot. Sy nekkie word slap. Dood. Ek voel baie skuldig.
Op universiteit skryf ek ’n kortverhaal, Een dooie eendjie. Monica Breedt lees dit oor die radio voor. Terwyl sy dit doen, sit ek saam met die skrywer Mikro in die trein op pad na Pretoria. Ek leer baie by hom oor hoe hy skryf.
Sondagmiddae stap ons dikwels Landmetersmoeite toe. Agnes hou my aan die hand en Jonker en Jansie stap vooruit. Op pad terug loop ons soms by die vervalle beesdip verby, met nastergal wat ons in die veld gepluk het en waarvan Mammie konfyt gaan kook.
Soms neem Mammie my saam na die stokou appelboord op Palmietfontein, waar sy ineengekrimpte appeltjies pluk om in te lê. Op pad terug stap ons by die kinderkerkhoffie uit ’n vorige eeu verby, waar moeë garingbome nog stil die wag hou.
Daar naby vorm die stewige klipmuur steeds die grens tussen Palmietfontein en Winddam. Dit was glo oorspronklik die grens van Doornkloof, Sarel Cilliers se plaas, maar dit glo niemand meer nie.
Op ’n dag bou ek langs Winddam se pad dorp toe met klippies ’n altaar vir die Here nadat Pappie daarvan by die huisgodsdiens gelees het. Oom Frans Hattingh, ons buurman, hou met sy kapkar stil. “Wat maak jy, ou seun?” Pleks dat ek hom die waarheid vertel, sê ek: “Ek speel sommer, oom.” ’n Getuienis-geleentheid vir altyd verlore!
My eerste boek, My Dankie-sê Boekie, het dwars oopgemaak. Ek kon nog nie lees nie maar kon hom uit my kop opsê, want Mammie het hom elke aand vir my voorgelees.
Onder die twee groot bloekombome by die sinkdam, die Tweeboompies, het ek (Stompie) en Jonker (Dibbie) groot plase uitgelê. Dolosse was ons beeste. Eendag kondig Jonker trots aan: “My vrou het gister naar geword. Toe sy opbring, kom daar veertien kleintjies uit!”
Oom Johannes, Mammie se broer, het as kwaai onderwyser die lat op die eenmanskooltjie Brakdraai op Landmetersmoeite geswaai. Op die laaste skooldag voor ek grootskool toe sou gaan, is ek saam Brakdraai toe. Die kwaai oom gee my ’n lei en griffel en laat my die heeldag sukkel om die moeilikste letter, e, te skryf. En het hy baklei toe ek dit om die dood nie kon regkry nie!
Laerskool
Die grootste deel van my laerskooljare het ek geloseer of het ons in Lindley gebly. Daar is egter wel ’n hele paar Winddam-herinneringe.
Een van die mooiste is die aandgodsdiens. Pappie het gewoonlik op die “musiek” (die huisorreltjie) gespeel. Feitlik altyd het ons vooraf Ps. 93 (“Die Heer Regeer”) gesing en met Ges. 180 (Die Aandgesang) afgesluit. Musiek het ons gesin gebind.
’n Hele paar Sondagmiddae is ek alleen die bult uit strooise toe om vir die werkers ’n boodskap te gaan bring. Hulle het aandagtig na die kleinbasie geluister.
Een Kersfees het ons vir die bure Kersliedere gaan sing. Pappie, met toe oë en met twee vingers teen sy slape, sing Stille Nag lustig as: “Soetste Engelse koor!” (En hy, ’n konsentrasiekampkind, wat later van spanning naar geword het toe die Britse rugbyspan op Kroonstad teen die Vrystaat op die veld draf!)
My sub A-juffrou, juffrou Hoffmann, het verleidelike sagte bo-arms gehad. My sub B-juffrou, juffrou Nelson, was hard en onverbiddelik en het haar leerrottang hard laat praat. Toe ek op die skoolbord vir die skoolhoof, die ses voet ses lange mnr. RJA Brandt al hoër skryf, voorspel hy ek gaan gou in die hemel kom. Ek glo hom.
Op Winddam probeer ek dik boeke lees: Emily Hobhouse se vertaalde Die Smarte van die Oorlog betower my. Ek staar lank na die foto van die uitgeteerde 14-jarige Lizzy van Zyl, ’n lewende geraamte. Ook die dik bruin boek Daar Ver oor die See deur Tannie het foto’s in wat my laat besef daar is ’n wêreld buite Winddam.
Ek fantaseer ure alleen in die groot ou populierbos. Is dit vreemd dat ek later die kinderboekie Die Boetie van die Bos geskryf het?
Einde sub A sê ek vir Mitzi Jooste buite die kerk:”Pê, ek staan tog eerste!” Sy gee my ’n welverdiende klap. Jare lank bly ek verlief op haar. In st. 5 skryf ek treurig in my dagboek:”Vandag trek Mitzi-hulle.”
Hannatjie kom terug van Onderwyskollege en oortuig Pappie ek moet “met sielkunde” grootgemaak word.
Eendag brom Pappie, toe ek stilstuipe het: “ ’n Mens moet sommer hierie piepertyt van jou met ’n sambok uitfoeter.” Maar dit het hy nooit gedoen nie.
Kyk na ’n plaas se drade, dan weet jy of dit ‘n goeie boer is, het Pappie altyd gesê as ek hom help draadspan het. Ek wonder of die stewige held van my vervolgverhaal, Die baas van Leliespruit, nie op Pappie geskoei was nie. Dikwels het hy my uit die huis gesleep om te gaan kyk of die mielies wat hy net die vorige week geplant het, nog nie opkom nie. Dan het hy met sy Joseph Rodgers-mes diep in Winddam se swart turfgrond gegrawe om die ontkiemende plantjie te soek.
Hoërskool
Die eerste ses maande van st. 6 was ek in die dorpskoshuis, waar Jurie Wessels, my latere swaer, en sy tweelingbroer Jannie, my kamermaats was. Wat ’n klein wêreld!
In Junie verhuur Pappie Winddam en bly ons op ’n plot op Bainsvlei tot die einde van my st. 8-jaar. Toe sê die huurder die kontrak op en trek ons terug Winddam toe.
In my st. 9- en st. 10-jaar loseer ek by Ouma Moeite en by Japie, my register-onderwyser, en Hannatjie.
Op Winddam sit Pappie sonder arbeiders. Hy kap self alleen met ’n kafferpik boetebossies tussen die mielierye uit – ’n bekommerde man.
Naweke, as ek saam met hom deur die kampe stap, lug hy sy vrese: sal die kinders nie rusie maak oor Winddam as hy nie meer daar is nie? Wat moet hy met Winddam doen?
In 1956, met die st. 10-prysuitdeling, loop ek die gesogte Dux-medalje met ‘n halwe persent mis. Daarom gee die stadsraad vir my ’n spesiale kontantprys.
Ná die prysuitdeling, op pad Winddam toe, ry ons deur Herbst-spruit. Formeel sê ek in die donker motorkar: “Dankie vir wat Pappie en Mammie in my skoolloopbaan vir my gedoen het.”
Universiteitsjare en daarna
In 1957 werk ek saam met Willers by Eskom omdat ek ’n B.Comm. oorweeg. In Oktober besef ek ek is vir ’n geesteswetenskaplike rigting aangelê en sluit ek by die Johannesburgse Biblioteek aan.
Van 1958 tot 1960 studeer ek aan die Puk. Vakansies werk ek dikwels by die biblioteek om geld te verdien maar naweke kuier ek soms op Winddam met my 1954-Fiat Cub.
Op 31 Desember 1963 trou ek. Op 7 Julie 1965 vier ek en Helen en al die Cilliers-kinders op Winddam Mammie en Pappie se veertigste huweliksherdenking.
Maar op 21 Maart 1967 sterf Pappie op dr. Jan Henkins se ondersoektafel in Bloemfontein nadat Winddam verkoop is en hy en Mammie na Midden buite Lindley getrek het. Op ’n pragtige dag, nogal Goeie Vrydag, word hy in Lindley se kerkhof begrawe.
Baie gepas was die teks in Lindley se groot kerk, waar Pappie baie jare ouderling was, Filippense 1:21: “ ... om te sterwe, is vir my wins.”
Ná die begrafnis kon ons kies watter meubels ons wou hê. Ek maak beswaar. So gou? Mammie, altyd realisties, troos: “My kind, onthou. Jy het nie meer ’n ouerhuis nie.” Vreeslike woorde! Ek het onder meer Pappie se lessenaar gekies.
Pappie was 67 toe hy oorlede is. Mammie is op 11 Februarie 1984 in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein oorlede in die ouderdom van 85 – twee dae ná my verjaarsdag.
Op haar sterfbed gee Jansie vir my ’n paar grys kouse wat Mammie gebrei het. Dit was toegedraai in bruin papier, met my naam daarop, in Mammie se handskrif. Sy het in die hospitaal geskrywe: “Baie geluk. Voorspoed in die Nuwe Jaar. Van Mammie. Aan Stoffel.” Haar laaste woorde aan my, haar laaste geskenk.
Mammie is op Woensdag 15 Februarie 1984 uit die NG kerk Lindley begrawe. Ds. Jan Slabbert van Bloemfontein het die diens gelei. Sy trooswoord uit Joh. 14:2 was: “Ek gaan om vir julle plek gereed te maak.” Mammie is langs Pappie begrawe.
Maar die héél laaste, onvergeetlike geskenk wat Pappie en Mammie vir ons almal gegee het, is die herinnering in ons almal se harte aan hulle hegte, onbreekbare verbintenis. En ook die herinnering aan daardie kosbare Vrystaatse plaas, ons grootwordplaas, ons geliefde plaas, Winddam.