Maart 2020
Sowaar!
Ná 61 jaar
is ons nog daar
vir mekaar!
Raai-raai: Wat maak 999 keer tik en 1 keer tok? Antwoord: ’n Duisendpoot met ’n houtbeen. Ek is nou ook deel van die houtbeen-generasie. Ek loop met Oupa Meintjes se kierie. My linkerknie is onherstelbaar.
Stoffel, jou versoek om spekboompies te plant het nie op dowe ore geval nie. Ons het nou al twee.
By voorbaat dankie aan al die Skakels-skrywers vir julle bydraes oor die tema, Hoe het ons/hulle destyds reggekom, in hierdie uitgawe. Die uiteenlopende benaderings hieroor gaan weer interessante leesstof uitmaak.
Cilliers het met die pragtige idee gekom om ’n Winddam-boekie die lig te laat sien. Die Junie-uitgawe se bydraes sal sommer ook in dié boekie opgeneem word. Vir Cilliers gaan dit ’n groot werk wees maar hy sien kans daarvoor. Mooi so, die boekie gaan saambindend wees vir familie wat oor die hele wêreld verspreid woon.
Die keuse vir die Junie-utgawe is derhalwe tussen een van die volgende twee temas: a} Waarom Winddam vir my kosbaar was of b} Ons onthou die vroeë jare van Winddam. Voel ook vry om die twee temas in jou bydrae te kombineer.
Jou bydrae moet Stoffel liefs vroeër maar nie later nie as 1 Junie bereik. Lekker skryf!
- Jonker
Naskrif: Jonker, ons wens jou nou reeds van harte geluk met jou verjaarsdag op 1 Junie. Mag jy elke dag geluk en goeie gesondheid geniet, minder in die tuin werk en meer krieket kyk. – Stoffel
Agnes onthou die plaas sonder elektrisiteit
Groot is die blydskap toe ons ‘n plaas te huur kry naby die dorp vir die kinders wat moet skoolgaan en Ma wat moet skoolhou om die pot aan die kook te hou. Maar dis ’n plaas sonder elektrisiteit!
Gelukkig het ek darem my trap-naaimasjien. ‘n Lieflike Aga-stoof wat dag en nag gestook moet word, arriveer. Saans word die olielampe en kerse aangesteek.
Pa? Hy lag van oor tot oor. Uiteindelik kan hy skoolhou en boer met tamaties, want daar loop ’n sterk stroom water op die plaas. Sterk genoeg vir die tamatieplantjies wat mooi opgekom het. ’n Ervare plaaswerker gee raad.
Ons geniet die lewe op die plaas sonder elektrisiteit. Die spensvenster staan wyd oop. Op ’n tafeltjie staan ons melk en botter in ’n skotteltjie water met ’n klein, nat vadoekie toegegooi. Voor die agterdeur is ’n groot buite-yskas met druppende water – ’n regte plaas-yskas!
Nou is daar ook baie koeie wat soggens en saans gemelk moet word. Aanvanklik laat ons die melk staan om later die room af te skep om botter te maak. Gelukkig het ons nog ‘n bottervormpie om botter te maak en die “karringbottel” om die room af te skud.
Wanneer die botter en melk skei, word die botter ’n paar keer gewas en word die sout ingewerk. Dan word die botter in die bottervormpie gedruk om as ’n blok botter uitgedruk en in botterpapier toegedraai te word. Later kry ons ’n roomafskeier, wat dit makliker maak om die room af te skei. Die plaaswerkers is te dankbaar vir die afgeroomde melk, so ook die katte en honde.
(Ek onthou Pappie se botterpapier het sy naam en adres opgehad. Die botter is dan na Johanneburg se mark gestuur om verkoop te word.)
Deesdae as dit beurtkrag is, maak Helena en Douw gebruik van die olielamp wat ons op die plaas gebruik het. En ek gaan slaap weer met ‘n kers.
NASKRIF: Met die hulp van elektrisiteit en internet se Google, kon ek paar foto’s kry van die bottermaak proses – my bydrae tot die Skakels vir Maart 2020.
Ek kan nog onthou hoe ons saans na die radio geluister het en met kerse gaan slaap het. As ons nog skelm wou lees, het ons die komberse oor ons kop getrek en met ’n flits lê en lees. En plaasbotter bly maar die beste! Groete, Helena.
Gideon is nog buite aksie
By die skryf hiervan is Gideon nog nie in staat om ’n Skakels-bydrae te lewer nie, omdat hy nog ná sy rugoperasie aan die begin van Februarie redelik pal op sy rug moet lê. Alle sterkte, Gideon!
Jonker sê die bankwese sal nooit weer dieselfde wees nie
Die mees radikale verandering van ons dag was dalk in ons bankwese. Vir 35 jaar het ek my brood en botter in die bank verdien.
Omdat ek self boer was, het ek, toe ek bankbestuurder word, vreugde daarin gevind om ’n simpatieke verhouding met my boerekliënte te hê. Daardie dae is ’n bankbestuurder nog op die platteland hooggeag.
Maandae en Vrydae was jou program vol. Dié twee dae is leerlinge koshuis toe gebring of daarvandaan kom haal. Dan is gewoonlik ook ’n draai by die bankbestuurder gemaak.
Jy het intiem naby sommige kliënte gelewe. Testamente moes onder meer opgestel word. Die rapporteer van boedels was soms smartlik. Humor het ook nooit ontbreek nie.
Jy moes ook soms opvoedingswerk by minder ontwikkelde boerekliënte doen.
Daar was oom Koos, ’n korrelkop van die eerste water. Die kassier weier sy tjek toe hy skryf: “Betaal aan K...ff...”, bedoelende die oesters wat hy tydelik in diens gehad het.
“Wat bedoel jy as jy sê my tjek is onreëlmatig? Net my maag raak onreëlmatig!” sê hy aanvallend.
Dit kos baie geduld en ’n hele uur voor oom Koos sy tjek reg uitskryf.
Dan was daar oom Naas, een van die rykste boerekliënte, met twaalf onbelaste plase. Sy vorige bank het hom om een of ander rede verkeerd opgevryf. By sy koms na ons tak word die rooi tapyt oopgerol. Dit word die deurbraak van die jaar en ’n veertjie in ons tak se hoed.
’n Week later staan oom Koos blaas-blaas in my kantoordeur. “Oom Naas, kom drink ’n koppie koffie,” nooi ek vriendelik. Rooi in die gesig gaan sit hy op die stoel.
“Ek is nie ’n os nie,” brom hy.
Wat het ons nou hier? wonder ek. Ek kan hom mos nie vir die gek hou deur te sê met twaalf onbelaste plase is hy inderdaad nie ’n os nie maar die bul van Porterville!
Uiteindelik blyk dit hy voel ongelukkig omdat hy soos ander kliënte op pad na die kassier tussen twee toue deur moet loop. Nes sy beeste in ’n drukgang op pad na die dip.
Al wat ek kon doen, was om oom Naas uit te nooi om voortaan direk na my kantoor te kom. Al was ek hoe besig, ek sal hom dadelik help.
Só het ons en ons kliënte destyds in die bank reggekom. Vandag is die bankwese ’n gevoellose monster beheer deur tegnologie. Talle takke, veral op die platteland, word summier gesluit, die arme kliënte se ongerief ten spyt.
As jy as kliënt aansoek doen om finansiering, word jy onderwerp aan die oordeel van die blikbrein. Wil jy geld hê, gaan vra maar vir die OTM. Daar is geen menslike kontak meer nie. Geen bankbestuurder met ’n simpatieke oor nie.
Ek wonder of hierdie verandering in die bankwese regtig ’n verbetering is!
Cecile vertel van hul prettige, mooi matriekafskeid
My ouers en meeste boeremense het nie yskaste besit nie. Slagtyd het my pa ’n groot vark geslag. Die vleis is in stukke gesny en buite in ’n driepoot-ysterpot gebraai. Wanneer die vleis gaar en bruin gebraai is, is dit in roomkanne ingelê met die uitgebraaide vet as bedekking.
Dit het ’n hele jaar vars gebly. As jy vleis nodig het, haal jy net genoeg uit vir die ete, maak dit warm, en siedaar, dis gereed vir eet.
Ons het ook ’n rondawel buite die huis gehad wat as ’n koelkamer gebruik is. Hierin is die roomkanne met die vleis, botter, melk en room gehou. As die kinders kom kuier, kry hulle hul roomkannetjies met ingelegde vleis.
Vandag reël die st 9’s, of moet ek sê die gr. 11’s, die afskeid van die gr. 12’s. In my dae moes die gr. 12’s self hulle afskeid reël. Daar was nie geld nie en meeste ouers was arm.
My jongste boet het in daardie stadium saam met my pa met hoenders geboer. Hy het ’n groen bakkie gehad. Die dag met my matriekafskeid het hy en die matriekseuns die hele dorp Koster se blomtuine geplunder om die saal op te maak.
Die vloer was vol jakarandas – pers blommetjies – en op die verhoog was die woord “Vaarwel” met lelies uitgespel. Die tannies wie se tuine deurgeloop het, het maar ’n blinde oog gegooi.
Kyk wat gebeur vandag met die matriekafskeid! Dit kos ouers ’n fortuin. Ons matriekafskeid was goedkoop, dit was pret en dit was mooi. Daar was geen drank of wilde partytjies nie.
So sonder die weelde wat geld kan koop, het ons tog in ons dae met vreugde reggekom.
Stoffel meen ons het bevoorreg grootgeword, selfs sonder al die moderne nuwighede
Wat sou Pappie (oorlede in 1967) en Mammie (oorlede in 1984) gesê het as hulle die volgende onlangse koerantopskrifte gelees het? Justin Bieber (25) het 50 miljoen YouTube-followers; Senator sê Trump moet ophou twiet; Lesing oor 4IR maak opslae.
Selfs in ons dag moet bostaande terminologie vir baie mense nog verduidelik word. Vir lede van die jonger generasie is dit egter alledaagse woorde.
Trump spreek wel soms mense toe, maar hy baljaar soos ’n papegaai op Twitter. En die jong Kanadese sanger Bieber het omtrent nie nodig om konsertreise te onderneem nie. Sy aanhangers kom na hom toe. Terloops, die 4IR (Vierde Industriële Revolusie) is glo reeds met ons.
Maar te midde van die dringende evolusie in tegnologie het ook eensaamheid gekom. Want waar is die warm intimiteit van geliefdes se briewe? Ons onthou nog almal hoe lekker dit was om ’n Sondagmiddag-brief van Mammie, geskryf op Winddam se stoep, en afgesluit met Pappie se paar paragrawe, te ontvang. Jansie het haar Winddam-briewe baie jare gebêre en gekoester.
Ek is eintlik bly Mammie het nie vir ons e-posse geskryf nie. Dit sou nie naastenby so persoonlik gewees het nie. En dink net watter karakter het Hannatjie se netjiese handskrif aan haar briewe gegee!
Ons voorouers het almal sonder vandag se doeltreffende, blitsige tegnologie klaargekom. Maar hulle het tyd beter as ons benut. Hulle het meer waardes beter gevestig as die huidige geslag. Ek dink hulle geloof was sterker, ook hulle vaderlandsliefde en tien teen een hulle innoveringsvermoë.
Want waarvandaan anders as van oupa en oupagrootjie kom die spreekwoord, “Boer maak ’n plan”? Tot ons skande moet ons erken dat in ons tyd, daarteenoor, die TV-sirkus “Boer soek ’n vrou” gebore is.
Vorige geslagte se jongkêrels het myle ver met hul blinkvosperde gery om Saterdagaande by hul nooiens te gaan opsit. Hulle het nie soos vandag se kieskeurige, ryk jongmans gewag dat desperate stadsdametjies na hul weelderige plase aangery word sodat hulle op hulle jisse agteroor kan sit en besluit watter blondekop kastig by hulle pas nie. Lui verby! Sies!!!
Hoe het ons destyds sonder TV klaargekom? Maklik! Ons het gesels. Radio geluister. Gelees. Met die bure oor die plaastelefoon gepraat. Lang ente op die plaas rondgeloop. Gewerk. Kalwers gery. Dolosse gespeel. Mekaar geterg. Die plaas en die populierbos en die spruit verken. Gedroom. Voor die Queen-stofie, wat nou by Gerhard staan, gekyk hoe die vlamme blou feëtjies maak. Om die orreltjie, met Pappie wat trap, staan en sing. Kosbare Winddam-herinneringe opgebou wat ons later, toe ons groot was, weer sou opdiep.
Daar was op Winddam nie ’n yskas nie, wel ’n koelkas met klinkers aan die kante en ’n vierkantige sinkbak bo-op waaruit water stadig gedrup het op die klinkers aan die kante. Dit het die vleis en botter en melk in die koelkas koud gehou. Innoverend!
Pappie het ook sy eie Winddam-botter gestuur. Ek was baie trots op my pa. Sy naam was in druk op die botterpapier: JJ van N Cilliers, Winddam, Lindley. Waar het hy dit laat druk? Ek weet nie. Ek is baie jammer ek het nooit vir Pappie gesê dat ek trots daarop is dat sy naam in druk is nie. Net soos ek vandag nog baie trots daarop is as my naam êrens in druk verskyn– al is dit bo ’n koerantbrief.
Natuurlik was daar nie ’n mikrogolf op Winddam nie. Maar die groot swart ou stoof in die kombuis was die hart van die huis. Dit was so gesellig en warm. Langsaan was ’n stronkekas, waarin ek dikwels pens en pootjies gesit het. Mammie was altyd doenig daar. Ek het haar nooit ledig gesien nie.
Dit is seker waar dat ons (ná Wêreldoorlog II en voor 1949 se wolprysvreugdes) arm grootgeword het. Ek het immers net ’n sikspens sakgeld per week gekry, en moes dikwels Jonker se ou klere dra, maar ek het nooit, ooit daardie idee gekry nie. Daarvoor was ons Winddam-kinders te goed toegerus met geestelike waardes.
Ons het gekom uit ’n Christelike huis waar Pappie en Mammie mekaar liefgehad het, waar hulle ideale vir hulle kinders gehad het, waar hulle en ons kinders almal lief was vir die Here, vir lees, vir musiek, vir die mooi dinge in die lewe.
Al moes ons soms sonder party materiële dinge klaarkom, ons was in soveel ander opsigte uiters bevoorreg! En hoe dankbaar is ons nie vandag daaroor nie! Al het ons destyds klaargekom sonder rekenaars, TV’s, e-posse, slimfone, WhatsApp’s en al die moderne tegnologiese nuwighede wat vandag ons dae betekenisvol maak.
Heila vertel van die groot verandering in die biblioteekwese
As lid van die “Baby Boomer”-geslag (gebore tussen 1946 en 1964), het ek in ’n baie interessante tydperk grootgeword. Die meeste gesinne in my kinderdae het nie die geriewe gehad wat ons vandag het nie.
Vir ons was dit normaal. Ons het nie van beter geweet nie. Ons ouers, wat die Depressie deurgemaak het, het vir ons geestelike waardes gegee. Ons was geborge.
Ek was agt jaar oud toe ons die eerste keer ’n yskas gekry het. Die wagwoord in ons huis was “vars”. Vars vrugte en groente uit my pa se tuin. Die slaghuis het elke dag vars vleis afgelewer. Vars etes is elke dag gekook. Ook vars melk is elke dag afgelewer.
Klere was tuisgemaak, met ’n Singermasjien, ’n handmodel. Strykwerk is met swart ysters gedoen, op ’n primus warmgemaak. Slegs ligte en die groot Pilot-radio het met elektrisiteit gewerk!
Materieel het dit al beter gegaan, namate ons ouer geword het. Op universiteit in 1966 het ek darem ’n elektriese strykyster gehad.
Die grootste verandering het ek gedurende my werksloopbaan in biblioteke ervaar. Ons “Google” by die UOVS-biblioteek in 1969 was eers ’n kaartkatalogus: ’n kabinet met rye en rye laaitjies gevul met kaartjies waarop biblioteekboeke se besonderhede getik is. ’n Lang pen het die kaartjies in volgorde gehou.
’n Langsame proses het hierdie trotse eindproduk voorafgegaan. Besonderhede is volgens vaste reëls op velletjies papier geskryf. Die inligting is noukeurig gekontroleer, dan op wasvelle getik en weer gekontroleer. Daarna is die kaartjies afgerol vanaf die wasvelle. Titels en mede-outeurs se name is op gepaste kaartjies getik. Die liassering in die laaitjies het ure op jou voete geneem en is volgens vaste reëls gedoen.
Hierdie eerste liassering is gedoen terwyl die kaartjies losweg op die pen in die laaitjie gelê het. Die volgende dag het ’n ander persoon die liassering gekontroleer en die nuut-geliasseerde kaartjies by die ander gevoeg. Die laai se lang pen is dan uitgetrek en die kaartjies almal netjies ingedruk voordat die pen weer teruggeplaas is.
In die middel-1970’s het die towerwoord “rekenarisering” van die katalogus begin opduik. Ek was so gelukkig om daardie proses van die begin af te kon meemaak. Baie kursusse, opleiding en besoeke aan ander biblioteke het gevolg. Dit was ’n baie verrykende ervaring.
Eers is ’n pasgemaakte rekenaarstelsel vir die Vrystaatse Universiteitsbiblioteek deur ’n bekwame klomp manne van die plaaslike rekenaarsentrum geskryf. Ek het ook my nagraadse studie oor die hele proses gedoen.
Fondse word in die 1990’s bewillig om in te skakel by ’n Amerikaanse stelsel wat wêreldwyd gebruik word. Weer is daar intensiewe opleiding deur Amerikaners wat Bloemfontein besoek.
Vanweë die tydsverskil tussen Suid-Afrika en die VSA moes daar later by die implementering van die stelsel baie laataande gewerk word om deur direkte kommunikasie verskeie prosesse op te stel en te laat werk. Nooit het ons terugverlang na die kaartkatalogus nie! Alles was net te interessant en opwindend. Alle liasseerwerk word nou met behulp van rekenaars gedoen!
Die eindresultaat is dat dosente, navorsers en studente vanoor die hele wêreld onderling toegang het tot biblioteke se katalogi in die gemak van hul woonplekke.
Die proses om e-boeke toe te voeg, het ek misgeloop. Dit het eers ná my aftrede plaasgevind.
Ek en Stoffel het nou die voordeel dat ons elektroniese boeke by die munisipale biblioteek in Bloemfontein kan uitneem en lees. Dikwels vind die uitneem en terugbesorging om elfuur die aand plaas, wanneer die biblioteek gesluit is.
Hierdie elektroniese boeke verskaf aan ons ure se genot, al is die krag af. Ons sorg net dat ons tablette (dit is nou nie pille nie!) volgelaai is gedurende die tye wat die krag af is. So ons maak ook planne om beurtkrag te omseil. Dis nou iets wat ons nie in ons vroeëre leeftyd geken het nie.
My pa se wyse woorde bly my altyd by: Hy het gesê: “Ons het moeilik grootgeword. Hoe ouer ons geword het, hoe beter het dit met ons gegaan. Ek is jammer vir julle geslag. Julle het redelik goed grootgeword, maar hoe ouer julle word, hoe moeiliker sal dit met julle op finansiële gebied gaan.” Waar woorde!
En dit te midde van al die ontwikkeling wat nog elke dag oral om ons plaasvind!