Winddam Traporreltjie

 Tannie Agnes en Oom Jonker by die orreltjie.

Die Winddam-traporreltjie, waarom gesing is met huisgodsdiens, is nou by neef Gerhard Cilliers, saam met die Winddam-stofie. Helena en Douw Snetler het dit al die jare opgepas. 

Dankie aan Oom Stoffel wat die storie aangestuur het:

In later jare het ons na Winddam se traporreltjie as die harmonium of die serafyntjie verwys. Oupa Jan en dus ook ons kinders het hierdie waardige instrument “die musiek” genoem. Dit is veral tydens aandgodsdiens gebruik.

Net Oupa Jan, wat nie bladmusiek geken het nie, het dit bespeel. En feitlik sonder uitsondering het ons aandgodsdiens begin met Psalm 93: Die Heer regeer / Die kleed van majesteit / wat Hom oordek / is enkel heerlikheid. So  het ons onder die indruk van die almag en heerlikheid van die  Here gekom – deur sang en begeleiding op die ou “musiek” deur Oupa Jan. Aandgodsdiens is afgesluit deur dieselfde gesang – die Aandgesang: Aan U o God my dankgesange / U wil ek in my aandlied prys. Die aandgodsdiens was ‘n nodige gesinsgebeurtenis op Winddam. Dit was nooit roetine nie. Dit het ons as gesinslede aan mekaar gebind.

As daar besoekers was, soos dorpenaars, het hulle die aandgodsdiens as iets doodgewoons met ons gedeel.

Die orreltjie het breë trappe en daarom kon ons kinders dit nie bespeel nie. Nie een van ons het ook musiek geneem nie. Dit bly vir my ‘n raaisel hoe die orreltjie in ons huis beland het. Dit was seker maar deur Ouma Helen se invloed, wat as oud-onderwyseres ‘n behoefte aan kultuur gehad het.