Gert en Tilla kuier op Lake Louise

Gert en Tilla bly in Olds, Kanada. Hulle is lief daarvoor om die mooi berge in Kanada te besoek.

Die foto's is waar hulle op die ysbedekte Lake Louise staan met die Fairmont Hotel in die agtergrond.

Bow Lake en op Two Jack Lake ysskaats die mense op die gevrisede meer en Sulphar Mountain in die agtergrond.

Winddam Traporreltjie

 Tannie Agnes en Oom Jonker by die orreltjie.

Die Winddam-traporreltjie, waarom gesing is met huisgodsdiens, is nou by neef Gerhard Cilliers, saam met die Winddam-stofie. Helena en Douw Snetler het dit al die jare opgepas. 

Dankie aan Oom Stoffel wat die storie aangestuur het:

In later jare het ons na Winddam se traporreltjie as die harmonium of die serafyntjie verwys. Oupa Jan en dus ook ons kinders het hierdie waardige instrument “die musiek” genoem. Dit is veral tydens aandgodsdiens gebruik.

Net Oupa Jan, wat nie bladmusiek geken het nie, het dit bespeel. En feitlik sonder uitsondering het ons aandgodsdiens begin met Psalm 93: Die Heer regeer / Die kleed van majesteit / wat Hom oordek / is enkel heerlikheid. So  het ons onder die indruk van die almag en heerlikheid van die  Here gekom – deur sang en begeleiding op die ou “musiek” deur Oupa Jan. Aandgodsdiens is afgesluit deur dieselfde gesang – die Aandgesang: Aan U o God my dankgesange / U wil ek in my aandlied prys. Die aandgodsdiens was ‘n nodige gesinsgebeurtenis op Winddam. Dit was nooit roetine nie. Dit het ons as gesinslede aan mekaar gebind.

As daar besoekers was, soos dorpenaars, het hulle die aandgodsdiens as iets doodgewoons met ons gedeel.

Die orreltjie het breë trappe en daarom kon ons kinders dit nie bespeel nie. Nie een van ons het ook musiek geneem nie. Dit bly vir my ‘n raaisel hoe die orreltjie in ons huis beland het. Dit was seker maar deur Ouma Helen se invloed, wat as oud-onderwyseres ‘n behoefte aan kultuur gehad het.

Nuwe Generasie Skakels

11 Desember 2020

In Julie 1957 is Die Westewindmoeite gebore na ‘n sogenaamde direksievergadering aan Winddam se etenstafel. As ek reg onthou, was ons toe bymekaar om oupa Jan en ouma Helen se troudag op 7 Julie 1925 te herdenk.  Na 63 jaar  word steeds by spesiale geleenthede uitgawes van die WWM uitgegee. Skakels het in 2003 ontstaan op inisiatief van oom Jonker om die ooms en tantes hegter aan mekaar te bind. En nou het Johan Badenhorst met sy blog gekom om as platform te dien sodat die volgende geslag nasate van Oupa Jan en Ouma Helen hulle daarop kan uitdruk. Ons heel beste wense vergesel die bloggelaars!

Oom Stoffel namens die Skakelaars